Illuminati

Adam Weishaupt (1748-1830), stigter van die Beierse Illuminati.

Illuminati (meervoud van die Latynse illuminatus, "verligte") of Illuminate is ’n naam wat al aan verskeie groepe gegee is. Histories verwys dit egter na die Beierse Illuminati, ’n geheime organisasie van die Verligting wat op 1 Mei 1776 gestig is en hoofsaaklik uit studente bestaan het. Die doel van die organisasie was om bygelowe, verkramptheid, godsdienstige invloed op die openbare lewe en die uitbuiting van staatsmag teen te werk. "Die punt", skryf hulle in hul grondreëls, "is om ’n einde te bring aan die konkelary van die verskaffers van die reg, om hulle te beheer sonder om hulle te oorheers."[1] Die Illuminati is in 1784, 1785, 1787 en 1790 verbied – saam met die Vrymesselaars en ander geheime organisasies – deur die Beierse heerser Karel Theodor onder aanmoediging van die Rooms-Katolieke Kerk.[2] In die jare daarna is die groep beswadder deur konserwatiewes en godsdienstige kritici, wat beweer het hulle het ondergronds voortbestaan en was verantwoordelik vir die Franse Rewolusie.

Baie invloedryke intellektuele en progressiewe politici was lede van die Illuminati, onder andere hertog Ferdinand van Brunswyk en die diplomaat Xavier von Zwack, wat die orde se onderleier was.[3] Dit het letterkundiges soos Johann Wolfgang von Goethe en die heersende hertoë van Gotha en Weimar gelok.[4]

  1. Richard van Dülmen, The Society of Enlightenment (Polity Press 1992) p. 110
  2. René le Forestier, Les Illuminés de Bavière et la franc-maçonnerie allemande, Parys, 1914, pp. 453, 468–9, 507–8, 614–5
  3. Introvigne, Massimo (2005). "Angels & Demons from the Book to the Movie FAQ – Do the Illuminati Really Exist?" (in Engels). Center for Studies on New Religions. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Januarie 2019. Besoek op 27 Januarie 2011.
  4. Schüttler, Hermann (1991). Die Mitglieder des Illuminatenordens, 1776-1787/93. Munich: Ars Una. pp. 48–9, 62–3, 71, 82. ISBN 3-89391-018-2.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search